If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
1•Tok-tok-tok! Tok-tok-tok! 
2•"Dina, loop kyk wie klop so aan die kombuis se deur," sê die nooi. 
3•Dina maak die deur oop en daar staan Mal-Jan. 
4•"Môre Dina! Ek kom van-dag werk soek." 
5•"En watter werk kan jy doen?" 
6•"Ek kan potte uitlek en hoenders oppas en baie eet en lekker slaap," sê Mal-Jan. 
7•"Wag, ek sal vir die nooi gaan vertel hoe knap jy is. Sy sal jou seker huur," sê die kok, en sy is binne toe. 
8•"Nooi, Mal-Jan kom werk soek. Hy sê hy kan goed hoenders oppas." 
9•"Nou ja, sê hy moet môre kom," sê die nooi. 
10•"Mal-Jan, die nooi sê jy moet môre vroeg hier wees om die hoenders op te pas. Jy moet die hoenderhok skoon hou en kyk dat hulle almal mooi lê," sê die kok. 
11•"Ja, ek sal vroeg in die hok wees voor dit oop is!" sê Mal-Jan, en hy draf daar weg. 
12•Die dag daarna is Mal-Jan vroeg op en na die hok toe. Dit was nog donker. Die hok se deur was nie op slot nie, maar Mal-Jan het oor die draad geklim om binne in die hok te kom. Die draad was hoog en hy val dat hy so hik. 
13•Die henne kekkel en raas. Die hane kraai en die kuikens piep, maar Mal-Jan val daar rond tussen hulle! 
14•"Wag, moenie so kwaad wees nie. Ek kom maar net maats maak! Julle moet almal eers vir my groet en handskud met my. 
15•Mal-Jan vang die laaste hoender en groet elkeen aan die poot. 
16•Hy het al die kuikens ook gesoen, en daaroor het die ma-henne hom seer gepik. 
17•"So ja! Nou is ons almal goeie maats. Vandag moet elkeen vir my 'n mooi groot sterk eier lê, hoor! Totsiens!" En weer klouter hy oor die draad uit die hok uit. Toe sien hy eers dat die deur nie gesluit was nie! 
18•Reguit na die kombuis toe gaan Mal-Jan. Hy maak die deur oop. 
19•"Môre, Dina! Hier is ek om die hoenders op te pas. Ek het hulle almal al gegroet." 
20•"Aai! Maar jy is darem fluks. Jy moet nou gou eers hulle kos gaan gee. Hier is 'n bak vol mielies." 
21•Mal-Jan neem die bak vol mielies en draf na die hok toe. 
22•"Dè! Hier is julle kos. Sê dankie, of ek trek julle laaste vere uit!" 
23•"Kê-kê-ke-kê!" skree die henne. 
24•"So ja. Tel nou hoeveel pitte elkeen kry." 
25•"Kok-kok-kok-kok!" sê die hane.
26•"O so? Julie kan nie eens tel nie. Ek sal die bak vashou en self tel."
27•Maar Mal-Jan kon nie tel nie want al die snoep goed het die bak bevlie.
28•"Dis 'n skande dat julle nie eens kan tel nie. Ek gaan vir almal vandag skoolhou," sê Mal-Jan.
29•Hy gaan in die middel van die hok sit. Hy haal 'n ou boek uit sy sak, hou dit onderstebo en lees daaruit.
30•"Nou sal ons tel. Een, vyf, ses, agt, vier, twee, tien."
31•Die hoenders wil maar nie leer tel nie. Party sit en gaap, party krap rond.
32•Mal-Jan tel tot hy moeg is, maar hulle word niks slimmer nie.
33•"Julle is te dom om te tel, nê? Nou ja, dan moet julle maar eiers lê. Ek sal julle gou laat lê."
34•Hy vang 'n hele klomp van die henne, maak hul pote vas en laat hulle daar lê. Toe gaan Mal-Jan eet.
35•"Hoe gaan dit by die hok?" vra die kok.
36•"Nee, net goed, want al die henne lê," sê Mal-Jan.
37•"Ag, maar ons sal mos baie eiers vandag kry. Het jy al die hok skoon gemaak?" vra die kok.
38•"Nee. Dit sal ek net-nou doen. Ek wil eers eet."
39•Toe hy klaar geëet het, is hy weg hok toe met 'n borsel en seep en 'n besem. Eers het hy die hoenders se gesigte gewas en hul vere geborsel. Toe neem hy die groot besem en vee die hele klomp uit die hok uit!
40•"So, nou kan julle gaan wei. Ek wil gou die eiers tel," sê hy.
41•Mal-Jan het agtien eiers gekry. "Wag, nou sal ons sien watter die sterkste eier is!"
42•Hy neem die eiers een vir een en gooi hulle stukkend teen die muur.
43•"Haai, Mal-Jan! Wat maak jy daar?" skree die kok.
44•"Ek kyk net watter eier die sterkste is. Hulle is niks werd nie! Kyk! Hulle breek sommer so maklik!"
45•Daar lê al die eiers stukkend op die grond!
46•"Nee, Mal-Jan laat staan maar die hoenders. Ek hoor jy kan so goed hout kap. Die nooi sê sy het baie hout nodig."
47•"Ja, ek kan al die bome in die land afkap," sê Mal-Jan.
48•Van daardie dag af is Mal-Jan nie meer onder die hoenders nie!