If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
1•Daar was eendag 'n baie lelike ou vrou. Haar naam was ou Tante Langtand omdat sy net een lang tand gehad het. Die tand het eers aan haar ouma behoort. Sy het dit jarelank gebruik en baie goeie diens ook daarvan gehad. Daarna het ou Tante Langtand dit van die ouma geërwe. Sy het dit baie goed opgepas want sonder die tand kon sy nie eet nie en sou so seker sterf van die honger.
2•Elke aand het ou Tante die tand uitgehaal, mooikoongemaak en baie veilig bo op die klerekas gebêre tot die volgende oggend. Versuim sy haar plig net een aand, dan het die tand langer en skerper geword gedurende die nag. Op die manier kon die kosbare tand dalk heeltemal onbruikbaar word.
3•"Nee, my tand sal ek oppas, want daar is nie nog 'n tand in die tand wat so lekker 'n beentjie kan afkou soos myne nie!"
4•Een aand toe sy die tand weer op die kas bêre, glip dit agter af en val naby muis-gaatjie en bly in die stof bly lê. 'n Nuuskierige ou muisie dit gesien.
5•Hy het daaraan gaan ruik en dit toe weggedra na die muis-gaatjie om vir sy ma te vra watter soort ding dit kon wees.
6•En daar het dit gebly.
7•O my liewe tyd! Toe ou Tante Langtand dit die volgende oggend soek, kon sy dit nerens kry nie. Dit was skoon weg!
8•"Ek soek, ek soek," brom die ou vrou terwyl sy die kas van die muur af wegtrek. Maar daar was niks nie.
9•"My tand is verlore! My tand is verlore. Wat sal ek doen?" En loop so ewe verdrietig daar in die huis rond. Orals het sy nou al gesoek. Agter kaste, onder beddens, op rakke, in laaitjies, maar net verniet.
10•Sy kyk by die venstertjie uit en sien 'n entjie daarvandaan die huisie van haar buurvrou. "O! nou weet ek wie my tand het! Dis daardie ou vrou wat nou kort hier langs my kom woon het. Sy het nie een tand in haar mond nie en was jaloers op my mooi tand. Wag, ek sal haar kry! Hoe durf sy my fraai tand steel vir haar lelike ou mond wat net soos 'n perd s'n lyk."
11•Toe ou Tante Langtand die gedagte kry, spring sy sommer dadelik by die voordeur uit en sit af, pad-langs na die huisie, waar sy vinnig en hard aan die voordeur klop. Niemand kom uit nie. Sy wag en wag, maar alles is doodstil. Sy gaan versigtig deur die venstertjie loer of daardie ou vrou nie miskien binne met die tand wegkruip nie.
12•"My tand, my tand. Gee dit tog vir my terug, ek het al so honger," pleit sy. Maar daar kom nie antwoord nie. Toe word ou Tante Langtand kwaad: "So 'n ou dief om my erfstuk so te steel.
13•Sy is uit, maar wag ek sal haar voorlê as sy vandag huis toe kom."
14•Die ou vrou stap padlangs dorp toe. Sy begin moeg voel en gaan op 'n klip sit en wag om te sien of haar buurvrou nie verby huis toe sal kom nie.
15•'n Man kom verby, en sy roep hom aan.
16•"Ek het my tand verloor. Het jy dit nie miskien êrens gesien nie?"
17•"Wat, jou tand?"
18•"Ja, gee dit tog asseblief terug as jy dit het."
19•"Ek het nie jou ou tand nie - wat wil ek daarmee maak as ek self twee-en-dertig het? Nee wat, jou ou  tand wil ek tog nie hê nie!" en die man stap weer aan.
20•Toe sy nog daar op die klip sit en kerm oor haar verlore tand, sien sy iemand in die pad aankom. Hy het 'n tandpyn-doekie om sy kop en sy wange is dik geswel. "Jou lelike ou skelm, dis jy wat my tand gesteel het, en daarom het jy tandpyn. Dis goed so! Maak jou mond oop en gee dit terug."
21•Die man word kwaad. Dis mos 'n ongehoorde ding om iemand anders se tande te gebruik.
22•"Gaan jy na die hoenders! Ek het nou net 'n paar dosyn vir die tandedokter laat uittrek en vir hom persent gegee, en nou wil jy ook nog een hê. Kyk!" Hy maak sy mond wyd oop en daar was nie 'n tankd te sien nie. Toe stap hy ook weg, baie vererg.
23•"Waar is my tand, waar is my liewe, mooi, knap, skerp tand?" kla sy, en daar sien sy nou 'n derde man aankom. Toe hy die ou tante daar sien sit en hoor wat sy brom, bly hy verbaas staan.
24•"My tand is weg, my tand is weg!"
25•"Wat? Het die muisie dit weggedra?"
26•"My liewe, daar het ek nooit aan gedink nie."
27•En die ou vrou vlie van die klip af en hardloop huis toe so hard as sy kan, Gou word die kas weggeskuiwe en daar in die donker muisgaatjie steek 'n puntjie van die tand uit!
28•"Ha, ha, haa! Hee, hee, he!" lag ou Tante Langtand toe sy weer die tand veilig in haar mond het. Toe het sy eers gou smaaklik gaan eet, en daarna heeldag vrolik en vlytig in haar huisie gewerk tot die aand.
29•"Vanaand sal ek nie weer so dom wees nie," sê sy. In plaas van die tand op die kas te bêre, het sy dit met 'n sterk tou aan haar voet vasgemaak. "Nee, muise, vanaand sal julle nie my tand weer kan wegdra nie," sê sy en terwyl sy onder die kombers kruip om te gaan slaap.
30•Die aand het dit swaar gegaan. Skaars was due taond onder die kombers, of hy begin daar rond te woel, Hy byt en ky kap, hy kou en hy krap die ou vrou so geweldig dat sy dit nie meer kon hou nie.
31•Sy vlie uit die bed en begin ronddans; maar hy wil nie ophou byt nie. Sy hardloop deur die huis tot by die kombuis met die tou en die tand agterna.
32•Hier gryp sy 'n groot mes en sny gou die tou af, en toe was die tand stil.
33•"Nee, jy gedra jou baie sleg vanaand, my liewe, mooi tand," en sy dra dit kamer-toe, sit dit regop langs die bed op 'n klein tafeltjie neer, en kruip weer onder die komberse.
34•Sy is gou vas aan die slaap en snork kliphard, so hard dat sy glad nie wakker word toe die kat op die tafel spring nie. Die tand het van die tafel afgerol en onder die bed in, en toe sy die volgende oggend wakker word, het sy vir haar weer amper flou gesoek na die tand. "My liewe tyd, dis genoeg om vir my 'n swak hart te besorg of te laat sterf van die honger. Vanaand haal ek nie weer my tand uit nie," sê sy.
35•So het dit gebeur dat ou Tante Langtand die aand met tand en al gaan slaap het. In die middel van die nag voel sy die tand groei langer en langer.
36•"Ek is nou verplig om wakker te bly tot môre, want slaap ek, groei hy al meer."
37•Ou Tante het die hele nag wakker gebly, maar tog was die tand so lank dat dit orals aangehaak het. "Vannag kan ek hom nie weer in my mond hou nie, hy sal te lank word vir gebruik en ook naderhand in die grond vas steek as ek daar-mee wil rondloop. Ek moet 'n ander plan maak."
38•Ou Tante Langtand het nie dieselfde soort kos as ander mense geëet nie - sy het nooit groente, die gesondste van alles, geëet nie, maar bene het sy geëet, baie, baie bene.
39•Dié dag het sy 'n goeie maaltyd van 'n groot skottel bene gemaak, toe het sy haar tjalie omgesit om dorp toe te gaan. Toe sy daar kom, begin sy iemand soek wat by haar wil kom werk sy wou 'n wakker kêrel huur om haar kosbare tand op te pas. Sy ontmoet 'n werklose ou bedelaar.
40•"Weet jy nie van iemand wat by my kan kom werk nie?" vra sy.
41•"Juffer, ek soek werk, ek wil graag 'n stukkie kos verdien," antwoord hy.
42•"O, dan is jy net die man wat ek soek."
43•"Watter werk moet ek doen?"
44•"Jy moet my tand oppas."
45•"Tand oppas! My liewe tyd! Ek kry nou net gedagte dat ek nog baie ander werk het wat eers moet gedaan word," en met dié ekskuus maak die ou bedelaar dat hy wegkom.
46•"A nee a, die ou vrou met haar lang tand sal net een hap gee, dan bly daar niks van my oor nie. Ek wil darem nog 'n bietjie langer lewe," sê hy vir homself.
47•Toe stap ou Tante Langtand weer verder en kom by 'n bank verby. Hier sit 'n man wat nie werk het nie.  Hy sien haar aankom, en staan ewe gou op.
48•"Môre, Juffer! Ek hoor Juffer soek 'n werkman wat fluks en vertroubaar is. Ek is so 'n man, en ek soek werk."
49•"Wat moet ek doen?"
50•"Jy moet my tand oppas."
51•"Tand oppas!" Die skelm wou hom amper siek lag, maar hy laat haar dit nie agterkom nie.
52•"Ek kan al die tande van die wêreld gelyk oppas; ek verstaan dit goed."
53•Die man was 'n skelm, hy het gehoor dat die ou vrou baie ryk was. Hy het toe gedink dat hy daar moet gaan werk om uit te vind waar sy haar geld bêre. Sy twee maters sou hom dan help om dit in die hande te kry, en tussen hulle drie sou die geld verdeel word. So het die skelm toe by die ou vrou gaan werk.
54•Die aand het sy heerlik geëet en die skelm geroep, "Kyk, ek wil nou gaan slaap, hier is my tand. Elke aand en elke oggend voor ek opstaan, moet jy dit netjies skoon maak en blink borsel. Daar moet niks kossies aan bly sit nie, anders word my tand sleg. Soos jy weet gee 'n slegte tand jou baie pyn, of hy maak jou siek, of hy laat jou honger ly. Hier is dit, pas dit goed op, en mag die mensvreters jou vang en fyn kou as jy dit verloor!"
55•Ou Tante Langtand het sonder kommer of sorg die aand gaan slaap. Sy het geweet dat die gehuurde man haar tand goed sou oppas. Maar wat sy nie geweet het nie was dat hy die grootste skelm in die dorp was.
56•Hy het die tand mooi skoon gemaak, geborsel en blink gevrywe, en dit toe voor hom neergesit en so stip daarna gekyk dat sy oë sommer oormekaar wou slaan. Hy het so gesit todat die ou vrou aan die slaap was, en toe spring hy saggies op.
57•"Ek na die ou bog se tand kyk. Ek gaan liewers kyk of my maters al aankom - hulle het gesê hulle sal voor midder-nag hier wees." Hy kyk deur die venster en sien hulle aankom.
58•"Phuuit!" fluit die een en die tandwagter gaan stilletjies deur toe en glip uit.
59•"Waar bêre sy die geld?"
60•"Ek weet nie, ek het al orals gesoek."
61•"Kan jy nie uitvind nie?"
62•Ja, ek dink ons moet die ou vrou se tand steel. Sy sal baie betaal om dit terug te kry, of sy sal sê waar haar goud is."
63•"Ja, dis 'n goeie plan, gaan haal dit."
64•Hy gaan gou by die deur in en hy is skaars 'n paar minute weg of hy is terug met die tand in die hand en hy gee dit aan sy maat.
65•Net toe die ander daaraan vat, begin die tand rondspring en die rowers byt so al wat dit werd is.
66•"Eina, eina," skree die een.
67•"Hou op, hou op!" skree die ander.
68•"Hou hom vas!" skree die derde, maar hulle is nie in staat om die tand vas te hou nie.
69•"Nee, maat, hier bly ek nie om vir my van so 'n ou wrede tand te laat stukkend kou nie." Die drie druk hoed vas en hardloop so vinnig soos hulle kan weer dorp toe, en die tand het daar buite bly lê tot die oggend.
70•Toe die ou vrou opstaan en die skelm soek, was hy skoon-veld, en sy het hom nooit weer daarna gesien nie. Die tand het die hele nag daar buite bly lê. Die môre toe sy dit sien en probeer optel, vind sy dat dit wortel geskiet het in die grond. Dit was onmoontlik om dit uit te kry, en daar het die tand by die dag al groter en groter geword.
71•Toe dit groot genoeg was, het sy dit in 'n huisie verander, met 'n mooi deurtjie en klein venstertjies daarin. Hierin het sy gelukkig gewoon en baie vriende ontvang, en tot sy stokoud was, het almal haar geken as ou Tante Langtand van Tandtoring.