If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
1•Daar was eendag 'n ou vrou wat alleen in 'n klein huisie gewoon het. Die huisie het onder 'n groot ou appelboom gestaan net buite die dorp.
2•Die mense van die dorp kon nooit uitvind wie sy is nie, of waar sy vandaan kom nie. Al wat hulle geweet het, is dat sy van die oggend vroeg tot laat in die aand pannekoek gebak het. Almal wat by die huisie verby kom, bly eers staan, en loer dan oor die deur.
3•Ja, daar staan sy alweer, pan in die hand. Vinnig gooi sy die een pannekoek na die ander op in die lug. Fluks vang sy hulle weer in die pan.
4•Woeps! vlie die pannekoek op; waps! val die pannekoek terug in die pan.
5•Daar kry sy toe die naam van ou tant Anna Pannekoek.
6•Op 'n middag so teen een-uur staan ou tant Anna weer met die pan in die hand.
7•"Dis nou die laaste pannekoek wat ek bak en dis ook die laaste een wat ek opeet!" sê sy. Die ou vrou gooi die pannekoek in die lug en toe dit af kom, val die panne-koek die pan mis! Ou tant Anna was verbaas want dit het nog nooit gebeur nie. Skielik hoor sy 'n snaakse stem op die grond sê:
8•"Nee, vir my laat ek nie opeet nie!"
9•Woerts! daar trek die pannekoek by die deur uit en ou tant Anna is agterna! 
10•"Haai, Pannekoek, haai, wag vir my!" skree tant Anna agter hom aan. Die pannekoek rol dat die stof so staan, maar die ou vrou is met lang, lang treë agterna. 
11•Die mense van die dorp wat net besig was om te eet, hoor die lawaai in die straat. Almal loer gou uit. 
12•"Dis ou tant Anna agter 'n pannekoek aan," sê hulle verstom. 
13•"Haai, Pannekoek, haai! Bly tog staan!"
14•"Nee, tant Anna, nee! Ek rol nou huis toe tot in Pannekoekland!"
15•Die pannekoek bly aan rol en hoe verder hy gaan hoe groter word hy.
16•Hy rol en hy rol en hy rol. Deur die strate, uit die dorp, oor bulte en oor berge. Daar kom hy toe by 'n hoë krans met 'n diep afgrond. Die pannekoek spring links! Die pannekoek spring regs! Net toe hy oor die krans wil spring, vlie ou tant Anna bo-op die pannekoek. Haar dun beentjies maak twee gate dwarsdeur. Haar hoedjie waai af en haar velskoentjies val uit, maar sy sit.
17•"So, jy sal nie van my af wegkom nie!" sê sy. Vinnig trek sy deur die lug.
18•Kaplaks! en ou tant Anna is binne in Pannekoekland! Die ou vrou val op 'n groot klip van pannekoek waar sy sommer bly sit en eers rondkyk.
19•Hier kom 'n snaakse ou tannie verby. Ou tant Anna se oë het groot gerek toe sy die ou tannie goed bekyk. Op die ou tannie se kop sit nie 'n hoedjie nie maar 'n lekker pannekoek, windskeef met 'n veertjie daarin. Al haar klere was van pannekoeke. Haar paar pannekoekskoene het vir ou tant Anna so laat skater van die lag dat haar oortjies glip en haar neusie wip!
20•Die ou tannie bly staan en kyk verbaas na ou tant Anna.
21•"Môre, Niggie."
22•"Môre, Tannie."
23•"Waar kom jy vandaan?"
24•"My huis is daar ver oor die rand.
25•Ek het agter 'n pannekoek gehard- loop en hier beland. Hier is alles vir my so snaaks. Kyk na daardie kinders."
26•'n Klomp kinders loop net toe daar verby skool toe met hul pannekoekboeke!
27•"Eet hulle dan nie hul boeke op nie?" vra ou tant Anna.
28•"O nee, watter kind sal dan so dom wees om sy boeke op te eet. Buitendien word die boeke van die taaiste pannekoeke gemaak!"
29•Toe hulle nog so gesels, begin dit groot druppels soet stroop uit die lug te reën. Die ou tannie het net gou haar pannekoeksambreel oopgemaak. Saam het die twee daaronder gestaan.
30•"Kom saam met my, ek woon net hier naby," nooi die ou tannie vir ou tant Anna. Toe hulle daar kom het ou tant Anna net gelag en gelag want die bome en huise was ook van pannekoek. Daar het sy lank gebly. Haar bure het orals na haar gesoek. Nie een het ooit uitgevind dat ou tant Anna Pannekoek nog in Pannekoekland woon nie.