If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
1•Daar was eendag twee spierwit ysbeertjies. Hulle was nog maar baie klein en het nog by hul ma gewoon op die groot ysvelde, baie, baie vêr hiervandaan, in die koue Noorde.
2•Die groot ys-bere het altyd visgevang vir kos. Hulle het ook jag gemaak op robbe af seehonde.
3•'n Ou ysbeer sien tog alte gou as 'n rob naby die kant van die ys lê. Saggies glip hy, 'n ent daarvandaan, in die water. Nou swem hy fluks onder teen die yswal tot by die half slapende rob.
4•Die rob gewaar hom glad nie, want die beer swem lang ente onder water. So nou en dan steek hy die neus uit, vir asemhaal.
5•As die beer by die rob kom, skiet hy skielik 'n voorpoot uit die water, en met 'n geweldige slag slaan hy die rob dood.
6•Die klein beertjies word later ook geleer hoe om te swem en vis te vang. Hulle dros partymaal weg om alleen te gaan visvang.
7•Eendag sê die een beertjie vir sy broertjie: "Rollo, kom ons gaan alleen visvang. Ma slaap, sy sal nie weet nie."
8•"Ja, kom ons gaan nou gou," sê Rollo.
9•Op sagte, lomp pote is die twee daar weg, na die kant van die ysveld.
10•"Is die ys nie baie dun hier nie? Jy weet Ma het gesê ons moenie op dun ys speel nie, want ons kan nog nie swem nie," sê Boetie Beer.
11•"Ag nee wat! Kyk hoe lekker dans ek hier op die rand!"
12•Skaars het hy dit gesê of die hele stuk ys kraak! Nog voor hy kan terug-spring, breek dit af en dryf weg met Rollo daarop!
13•"Help! Help! Roep .gou vir Ma," skree hy, nou regtig bang, want hy kan nog nie swem nie.
14•Boetie Beer hardloop gou om sy ma te gaan haal. Toe hulle terugkom, was Rollo al baie vêr weg op sy drywende eiland van ys. Die ma-beer raak in die nood. Sy is bang Rollo sal probeer terugswem. Sy sien die kwaai, groot haaie en wrede walvisse wat hom so seker sal aanval.
15•"Rollo, my kind, moenie swem nie. Hulle sal jou opeet!" skree sy.
16•Daar dryf die stuk ys met die arme stout beertjie alleen daarop weg, vêr weg van sy ma en sy broertjie. Hy huil en snik nou: "Ag, hoekom was ek tog so stout! Nou kan my ma my nie eens help nie, en wat word nou van my?"
17•Toe hy daar so sit en rond-kyk oor die wye see, sien hy iets in die verte.
18•"Aai, wat sien ek daar? Dit is mos 'n elland!" Toe lag hy sommer lekker deur sy trane.
19•"Nou kan my stuk ys maar wegsmelt," sê hy toe dit later op 'n eiland vasspoel. Hy spring van die ysblok af en gaan agter 'n groot rots lê. Gou was hy aan die slaap. Die eiland waarop Rollo uitgespoel het, was verlate en onbewoon. Net een man het daar gebly. Dit was 'n matroos van 'n skip, wat daar vergaan het. Hy was die enigste een wat uitgeswem het.
20•Vir jare het hy alleen daar gewoon. Hy het klere van diere se velle gedra en vleis, vis en wilde vrugte geëet. Toe die matroos gaan visvang, sien hy die beertjie daar agter 'n rots lê en slaap.
21•"Wag, ek sal hom vasmaak en mak maak."
22•Hy neem 'n lang riem en maak vir Rollo aan 'n boom vas. Toe die beertjie wakker word, skrik hy vir die man. Hy wil weghardloop maar 'n snaakse ding hou hom aan die voet vas. Hy probeer die tou los-maak maar kan dit nie regkry nie. Hy voel net kwaai nou, maar daar bring 'n man kos, lekker visse, en hy is baie honger. Die beertjie eet nou lekker en daarna slaap hy weer.
23•Vir 'n paar dae het dit so gegaan en toe word hy losgemaak.
24•"Kom, ek is nou jou baas!"
25•Rollo is so bly om los te wees, dat hy daar ronddans en spring, tot sy baas aan die lag is.
26•Op die hoogste rotse het hy gejakker. Hy het ook vir sy baas gehelp werk. Hy het hout aangedra en vrugte gepluk, en ook al die vis gevang.
27•Eendag toe hy daar sit en visvang, sien hy 'n skip. Hy begin 'n lawaai opskop. Toe sy baas dit hoor en gaan kyk, sien hy ook die skip.
28•"O, 'n skip! Hulle moet ons kom red. Rollo, gaan haal gou 'n lang stok."
29•Die man maak 'n ou stuk wit hemp aan die stok vas.
30•"Hier is nou 'n vlag. Jy moet dit waai tot hulle dit sien, Rollo!"
31•Rollo verstaan goed. Hy waai die vlag so al wat hy kan.
32•"Kyk, hulle het ons gesien! Daar kom 'n skuit van die groot skip af, land toe."
33•Rollo en sy baas klim in die skuit en seil weg met die groot skip.
34•Die matroos neem toe vir Rollo saam na sy eie land. Daar sluit hulle toe by 'n sirkus aan om hul kos te verdien.
35•Elke dag woes die matroos en die beer vir die mense dans. So het Rollo baie geld vir sy baas verdien. Hy was baie lief vir sy baas en as die matroos die mense wil laat lag dan sê hy: "Rollo, soen vir my!" dan sit hy sy bek so by die man se oor, en sê sag-gies: "Ek verlang huis toe. Dis te warm hier vir 'n ysbeer. Kom ons gaan terug na my ma en my broertjie op die ys-velde vêr hiervandaan in die koue Noorde."
36•Lang jare daarna het die matroos hom teruggeneem na die ysvelde. Maar of hy ooit weer sy ma en broertjie gevind het,sal ons nooit weet nie!