If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

HASIE EN SKILPAD

Hasie was op pad eendag
Deur die veld na huis;
Skilpad sien hom, staan te wag
Maar wens hy was al tuis.

"Môre, buurman!" was sy groet.
- "Môre, flukse maat!"
"Ek sien jy het 'n kruppel voet."
- "Niks om van te praat."

"Kyk, hasie, jy verbeel vir jou,
Jy kan loop soos wind,
Maar jy maak 'n fout hier nou,
Jy sal dit gou uitvind!"

"Ag skilpad gaan jy na die maan!"
- "Wat! Nie bang vir my?
Goed! By die klip gaan ons nou staan
En kyk wie agter bly!"

Maar skilpad sê hy moet nou loop,
Maar sal die dag daarna
Vir hasie in die dam gaan doop,
En hom ook skoon uitja!

Dit was nog vroeg die tweede dag.
"Kom kinders!" sê die ou,
"Vandag sal ons net lekker lag
Jy." Hy roep ook sy ou vrou.

Agter bossies sit hy hulle,
"Klein skilpadjies, bly daar,
Ou hasie word vandag gekul,
Hy sal julle nooit gewaar!"

By die klip staan altwee daar.
"Hasie, staan jy reg?"
"Ja, o, ja, lankal klaar!"
"Nou kom ons spring dan weg!"

Skilpad tel nou: "Een, twee, drie!"
Hasie soos 'n pyl,
Skiet meteens daar weg en vlie
So oor die eerste myl!

Toe eers kyk ou hasie om,
"Skilpad! Waar is jy?"
Maar hoe het skilpad hier gekom?
Hier loop die ou verby!

Hasie dink: "Nou moet ek ja,"
Toe laat die outjie spat,
Ou skilpad sukkel agterna
'n Ander pad gevat!

Vir drie myl het dit so gegaan.
Ou hasie kyk weer rond.
"Is skilpad nog vêr op die baan?
Hier lê hy op die grond!"

Hasie laat nou klippies klap
Oor die vlaktes vaal,
Glad nie nou vir stadig stap,
Om die paal te haal!

Die wenpaal by - "Hoerê! Hoerê!
Eerste is ek hier.
Ek het ou skilpad mos gesê,
Die stadige ou dier!"

"Wat sê jy? Domme aap!
Ek sit dan hier te wag,
Wie sit dan langs die pad te slaap?
Nee, ek slaap in die nag!"

Hasie hoor dit en hy buk,
Daar's skilpadglad nie flou!
Hy gee toe net 'n grote sluk,
Hy kon dit nie meer hou.

"Hasie, jy kan self nou sien -
Die water in die dam
Het ek eerlik hier verdien
Al is ek oud en tam!"

Die diere het haas baie gepla:
"Hoe kan jy dan verloor?
"Het skilpad jou dan flou geja?"
"Nee, skilpad het getoor!"