DIE OU OOM
'n Baie ou, ou oom,
Met 'n baard wit en lank,
Sit stil onder 'n boom
Op 'n ou, ou rusbank.
Hy sit daar te dink
Oor berge en bome,
Oor skepe wat sink,
Oor blomme en strome.
Oor sand-woestyne,
Oor die voëls in die lug,
Oor donker goudmyne,
Oor bokkies wat vlug.
Oor nasies daar verre,
Oor hul twis met mekaar.
Oor son, maan en sterre,
Oor die val van die blaar.
Daar sit die ou dromer,
Hier sal hy maar bly.
Deur winter en somer
'n Dromer bly hy!