STILLETJIES ROOK
Drie van ons is na die brug.
Ons wou daar graag leer rook.
Met pyp, tabak, sigaar en blaar,
Gaan ons nou bietjie stook.
Paul se pyp is styf gestop;
Jan rook 'n dik sigaar.
Lang, lang skuiwe trek ons nou
Bewonder ook mekaar.
Jan vryf sy ken, hy wil graag weet
Of baard nou uit sal kom?
Maar kyk sy maats lê kreun en steun
Wat het hulle oorgekom?
Die ander oggend in die skool,
Gaan dit nou regtig swaar.
Die hele klas is slim en fluks,
Net hulle drie voel so naar!
"Kinders, julle is dom vandag
Hoor ons keer op keer,
"Ag juffrou, met 'n kop vol rook,
Kan niemand lesse leer!"