If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Ons vir jou, Mata Hari

(As Odette, skep die idee van 'n werklike oorlogspraatjie. Gehoor sal eers later die konteks hoor.) Die vyand is op ons voorstoep. Die vyand is gewapen. Hulle is slu en gewetensloos. Die vyand is hier met net een doel: Om ons van die aardbol af te vee. So, ja, ons het rede om bang te wees. Ons het rede om te huil en te skreeu en om genade te smeek. Ons het rede om te sidder en te snik. Daar is baie mense wat so sou reageer. (Pouse) Maar ons is nie daardie mense nie.

Daar is mense wat sal wil onderhandel. Wat sal wil vrede maak. Wat sal wil oorgee. Maar ons is nie daardie mense nie. Daar is mense wat 'n wit vlag sal waai, wat hulle vryheid sal opgee en slawe van hulleself sal maak. Ons is nie daardie mense nie!!

(As verteller) Pfff! Odette kan nogal driftig raak as sy die dag lus het. In die regte konteks kan sy 'n hele battaljon opkommandeer en inspireer om 'n oormag te verpletter. Maar vandag se konteks is anders. Vandag se konteks is 'n belly-dance kompetisie. Op Douglas. Die bevolking van 'n paar honderd uiters konserwatiewe inboorlinge is ook nie juis broeigrond vir half-kaal eksotiese dansers nie. So die konteks is pretty much 'n battaljon van vier meisies teen 'n oormag van vyf.

(As Odette) Het ek julle al ooit die storie van Mata Hari vertel?

(As verteller) Ja, sy het. Odette het van dié Nederlandse socialite gelees toe sy op soek was na 'n tema vir haar eie dansimprovisasie. En toe iemand haar bubble wou bars en haar vertel hoe Mata Hari voor 'n vuurpeleton aan haar einde gekom het, was dit verby. Mata Hari was 'n heilige. 'n Martelaar gesterf het vir haar liefde en vir dit waarin sy geglo het. Die feit dat die vrou as 'n mislukte spioen deur die Franse tereggestel is - en nie vir haar eksotiese loopbaan nie - was irrelevant.

(As Odette) Mata Hari was 'n Fries. En die Friese was sterk. Onverskrokke. Vreesloos. Toe die Duitsters hulle land ingeneem het: Het hulle opgegee? Nee. Was hulle angsbevange. Nee! Friese is Vreesloos!

(As Verteller) Hoe Odette op belly-dancing besluit het, bly 'n raaisel. Dalk was dit haar mislukte poging om by die noodhulpspan aan te sluit. Of dalk was dit 'n rebound toe sy as mediaprefek afgedank is om 'n aanrandingsaak te vermy. Of miskien het sy net bellydancing verkeerd verstaan. Hoe meer belly jy het om te wys, hoe beter sal jy belly-dance. En Odette het baie belly gehad om te wys. Haar span ook.

In 'n ander konteks sou Odette se spannetjie hulle oë gerol het. Hulle sou haar driftige toesprake en oordrewe gebare afgelag het en dalk 'n ander leier gekies het. Maar in hierdie konteks is die uitgeworpenes. Die eensames, die onaantreklikes. Die sosiaal onaanvaarbares. Karakters van die beste grappe.

In hierdie konteks kyk hulle met groot oë vol bewondering na hulle leier. Dis hulle Bethlehem ster. Hulle engel van hoop. Hulle harte klop warm en hulle oë blink. Een pik 'n traan.

(As Odette) Mata Hari was eensaam. Sy was deur die samelewing in die steek gelaat, verwerp. Sy is gevange geneem. Geskiet. In 'n ongemerkte graf gegooi. En vir wat? Sodat ons soos bang babahondjies in 'n hoekie gaan sit en onself nat-piepie en tjank net omdat die vyand six packs het? Nee! Nee! Nee! 'n Duisend maal nee! Ons sal nie terugstaan nie. Ons doen dit nie vir onsself nie. Ons doen dit vir vroue regoor die wêreld. Ons doen dit vir hulle. Ons doen dit vir Mata Hari! 

 

Kopiereg © Johann Smith. (Met sy vergunning geplaas.)