Digters-ink
Eens sterk vloeiend’ bloed,
van digters-ink het verdamp,
verlore geraak tussen sterre -
en blomgeur’ se jasmynsoet.
Skêre van gister se onthou,
het geheuebank kortgeknip.
Woorde warrel woes en wild,
in ’n saamgekoekte web,
tydelik nou saamgevou.
Geluide bly hol afwesig.
Stene van diepdenk-mure
wieg brokkel-broos -
as dit fyn verkrummel,
neerplof in misstof
klankloos op papier.