Die goudson hou wag
Tussen distels en dorings
het sy ligvoet getrap
want die lewe se sweepslag
het ritmies bly klap
Die silwer rivierstroom
kon geen lafenis bied
want galbitter marawater
is oor haar stilsiel gegiet
Half versuip struikel
oor bakhand spoelklippe
wat as brood moes dien
vir honger barslippe
Olyflyster se roep
eggo onhoorbaar êrens
waar sy sleepvoet skuifel
na iewers tog ook nêrens
Maar die goudson hou wag
as sy mompelend strompel
trots, fier orent probeer beur
met ’n verwronge dwanglag