If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Daaglikse Roetine

Baie welkom in die Afrikaanse klas!  Ja, vandag gaan ons praat oor my daaglikse roetine.  Wat doen ek elke dag?  En dan gaan ek praat oor die naweek.  Die naweek is Vrydag, Saterdag, en Sondag.  Die week is Maandae, Dinsdag, Woensdag, Donderdag en 'n bietjie van Vrydag.  Ok. 

Nou wat doen ek elke dag?  Hoe laat staan ek op?  Dit is die eerste vraag.  Ek staan so... kom ons sê so sewe uur op.  En dan gaan ek na die badkamer, en ek borsel my tande, was my gesig, en ek trek aan.  Maar, ek eet nie ontbyt nie.  Ek gaan direk buite, en ek werk in die tuin.  Dit is baie lekker om in die tuin te werk.  Jy sien, ek het 'n groentetuin.  En ek het tamaties, en... wat is daar?...en mielies.  En dan spuit ek die tuin nat, en ek spuit die gras nat, en dan gaan ek weer binne en dan is dit so kwart voor agt.  En dan moet ek werk toe gaan.

Nou, ek het vir julle gesê ek eet nie ontbyt nie, en dit is waar.  So ek vat my boeke, en dan ry ek werk toe.  Nou, ek ry elke dag met my motorfiets, en dit vat my so vyftien minute om by die werk te kom.  En by die werk begin ek dadelik met my werk.  Ek kyk op my rekenaar... (rekenaar is 'n "computer")...so... ek kyk op my rekenaar of daar vir my werk is, en dan begin ek dadelik met die dag se werk.   En dan werk ek tot so twaalf uur, en dan gaan eet ek middagete. Ek eet 'n toebroodjie vir middagete, en direk nadat ek die toebroodjies geëet het, gaan speel ek 'n bietjie volleyball.  Daar is baie van my vriende by die werk wat volleyball speel.  Dit is baie lekker, ek hou van volleybal.  In Afrikaans sê ons nie net volleybal nie.  Ons sê vlugbal.  So, ek speel of volleybal of ek speel vlugbal.  Nou, baie mense in Suid Afrika speel vlugbal.  Dis 'n baie lekker sport.  Daarna, so een uur, een dertig se kant, gaan werk ek weer.  En dan werk ek tot so vier dertig, of vyf uur, so dit is so half vyf, vyf uur se kant, en dan gaan ek huistoe.

      En dan kyk ek gou na die nuus.  Ek hou daarvan om na die nuus te kyk.  Dit is vir my baie interessant, en ek dink dit is goed om na die nuus te kyk, om te sien wat gebeur in die wêreld.

      En dan lees ek 'n bietjie in die aand, en ek werk weer 'n bietjie in die tuin.  Ek maak weer die gras nat, en dan eet ek aandete saam met my vrou, en dan gaan slaap ek so tien dertig, elf uur se kant.  En dit is my daaglikse skedule.

Nou kom ons praat 'n bietjie oor die naweek.  Die naweek begin direk na werk op Vrydag.  Ek hou baie van die naweek, want dan kan jy jou eie ding doen.  Nou, wat is dit wat ek doen?  Vrydag aand, dit is lekker om nie by die huis te eet nie, so ek hou daarvan om na 'n /Mexikaanse restaurant te eet, en/of ek kan ook op Vrydag aand gaan fliek.  Dit is baie lekker.  Wat ek en my vrou ook doen is gaan kuier vir vriende.  En dit is ook baie lekker.  Of, nou en dan kom kuier vriende vir ons.

      Saterdag oggend dan staan ek ook vroeg op en ek spuit die tuin nat, en ek werk 'n bietjie in die tuin.  Ek sny die gras, en dan is dit ook tyd vir my om 'n bietjie te studeer.  Dan kom ek gewoonlik hier na die universiteit toe, en ek gaan sit 'n bietjie in die biblioteek, en studeer vir 'n uur of twee.

    En dan vir die middag gaan ek huis toe.  Ek eet 'n bietjie middagete, dan slaap ek vir 'n uur of twee, en dan gaan speel ek in die park, of ek werk weer 'n bietjie in die tuin, of ek en my vrou gaan ry op ons motorfiets.  As die weer lekker warm is, dan ry ons 'n bietjie op die motorfiets.  En dan is dit weer Saterdag aand, en Saterdag aand is weer speeltyd.  So, vir Saterdag aand, dan gaan kyk ons na 'n fliek, of ons gaan kuier vir vriende.

    Sondag is baie dieselfde.  Ons gaan Sondag oggend kerk toe. ons kerk begin om kwart voor nege.  Dit is lekker vroeg.  So, ons moet vroeg opstaan, en ons kerk klere aantrek.  En dan begin ons kerk om kwart voor nege, en dit gaan dan tot kwart voor twaalf.  En dan, direk daarna, eet ons middagete, en dan slaap ons 'n bietjie.

    O!  Dit is so lekker om op Sondag middag 'n bietjie te kan slaap!

    En dan later in die middag gaan kuier ons vir vriende, en later in die aand, maak ons seker dat alles reg is vir die week.  Dit is 'n tipiese naweek vir Jacques du Plessis en sy vrou.

Goed so.  Nou, julle moet vir my sê wat is hierdie persoon se beroep.  Goed so?