‘n Huisie vol vrede
By haar huisie, in die Bosveld -
groei die mooiste spierwit roos,
wat haar elke dag herinner,
dat haar Skepper haar sal troos.
Langs die muurtjie, wieg Gesiggies -
soos hul knip-oog na die son,
die gekleurde vlinders fladder,
want haar Lente het gekom.
Op haar stoepie, in ’n blombak -
breek die eerste blare deur,
van ‘n pikswart seldsaam Lelie,
wat ook hemelwaarts opbeur.
In die oondjie, bak ’n broodjie -
en die suurdeeg vul die sfeer,
want haar ingewande grom nou,
nooit gaan slaap sy honger weer.
Onder bome, in die koelte -
speel die Bloukop met sy vrou,
en die Tortel vra sy maatjie,
of sy dalk met hom sal trou.