If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Ons Toekoms

deur Delia Spies

Die wêreld was besig om in een te stort. Die pandemie het oorgeneem en die mensdom het met vrees in hul harte rondgeloop. Die ekonomie het ‘n nuwe laagtepunt bereik en paniekbevange het die land na die president gedraai om ons te lei. Die vrae wat in ons gebroei het, het ons van binne af opgevreet. Hoeveel van ons gaan hierdie moeilike tyd oorleef? Gaan ons lewens ooit weer dieselfde wees? Wat hou die toekoms vir ons in?

Ons het gedink die tyd van maskers sal nooit einde kry nie. Ons sou nooit kon raai dat geweld, regoor die wêreld, sou afneem nie. Ons het vas geglo die toekoms is leeg, dor, afgebreek en ’n totale treinwrak, maar hier sit ons 10 jaar later en alles is verby. Dit voel net soos ’n nagmerrie, behalwe vir die ongesiene wonde wat die pandemie gelaat het. Ek is doodeerlik. Wat dink jy daar? Glo jy my nie? Kom ons draf-stap deur die strate van Worcester.

Waar die mens nie alleen kon stap of selfs draf nie, loop ons kinders sonder vrees rond. Dit klink dalk na’n verhaal wat ons ouers ons vertel het van hul jong dae, maar dit is die waarheid. Families voel veilig in hul huise, steeds agter geslote deure en diefwering, maar dit is omdat die mens dit moeilik vind om weer te vertrou, indien dit vantevore verbreek is. Die land se oeste floreer en ons ekonomie het weer versterk tot op ’n punt waar die alledaagse mens ook oorsee kan reis. Ons is weer ’n stabiele, eerstewêreldland wat ons medemens en bure kan vertrou. Ons sê met trots dat ons van Suid-Afrika is. “So gebore en so laat staan,” sal ons gil as iemand ons sou vra. Lewe is weer goed en die moeite werd. Kyk daar hoe hardloop die kinders, so gelukkig en vol energie. Dit is maar vir wie ons leef en alles probeer beter maak, ons kinders. Dit is hoekom ek dink die land weer so gou op sy voete gekom het.

Die wêreld is beter, maar nie perfek nie en definitief nie terug na hoe dit voorheen was nie. Ons moes ’n nuwe normaal leer ken en aanpas om te oorleef. Die gebeure van 2020 het letsels in almal se lewens gelos en leegtes gelaat wat deur mense gevul was. Die waarheid is, ons is dankbaar vir ons verlede, want ons het daaruit geleer. Ons het verbeter waar ons kon. Ons lewe meer in die oomlik, omdat ons besef het hoe kort die lewe is. Ons geniet elke sekonde en laat alle besluite tel. Ons lewe nou voorwaardelik ten volle.

(Met vergunning -- https://skrop.co.za/kortstories/ )