If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Die verdwyning van Daniël

Daar was gisteraand 'n fight. 'n Helse fight. Almal was betrokke. Daar's deesdae baie fights in die Vorster gesin en dis nooit 'n lekker ervaring nie. Maar hierdie een was anders. Hierdie keer het Daniël ook baklei.

Dit het by James begin. Dit fights begin altyd by James, hy is onsensitief gebore, maar dis asof die finansiële krisis hom ekstra moedswillig gemaak het. En vir Ma meer sensitief. En Pa meer moerig. En vir Daniël... meer onsigbaar.

(As James) Eet ons al weer spaghetti? (As almal hom aankyk) Wat? Ek hou nie van spaghetti nie. Ek hou nie van pasta nie. Ek's nie lelik nie. Ek's net eerlik. (Pouse) Moenie 'n issue daarvan maak nie. ons het almal iets waarvan ons nie hou nie. Pa hou nie van teater nie. Ma hou nie van rugby nie. Daniël hou nie van... well, whatever dit is waarvan Daniël nie hou nie. En ek hou nie van spaghetti nie.

(As verteller) En toe is dit verby. Argumente en beskuldigings en misverstande vlieg rond en niemand gee 'n hel om wat die ander dink of sê nie, want elkeen wil reg wees en elkeen wil gehoor word en Daniël... Daniël is onsigbaar.

Ma is in trane en Pa raak warm onder die kraag. En James raak meer moedswillig.

Weet jy wat ek en jou pa opoffer...

Chill, Ma.

Moenie so met jou ma praat nie..

Kan 'n mens nie eerlik wees in hierdie huis nie?

Jy sal eet wat op jou bord is.

Ek sloof my af.

Ek haat spaghetti.

Daniël het nie 'n probleem met die spaghetti nie. Jou pa het nie 'n probleem met die spaghetti nie.

Nee, my pa het 'n probleem met besigheidsbesluite en skuld.

Pasop wat jy sê, mannetjie.

Wat? Dis die waarheid.

Ek het jou gesê jy moet die geld in die bank sit.

Jy't nie 'n probleem gehad om dit te spandeer nie.

Ek's die een wat moet sorg dat daar kos op die tafel is.

Ek haat spaghetti.

Ek werk ook.

Nie hard genoeg nie. Die kinders skaam hulle vir ons.

Nee, James skaam hom vir ons. Daniël het nie 'n probleem nie.

(As James) O, Daniël. Hoekom kan ek nie meer soos Daniël wees nie. Hy kan mos niks verkeerd doen nie. Dis net altyd James wat moet groot word. James wat meer dankbaar moet wees. James wat meer soos Daniël, Daniël, heilige flippen Daniël moet wees. Alles gaan altyd oor Daniël!

Almal kyk verskrik as Daniël opspring en sy bord flenters teen die muur gooi. Die sous vlieg in alle rigtings en die spaghetti val met 'n plop teen die grond. Daar heers 'n geskokte stilte. En toe praat Daniël.

(As Daniël) Daar is dinge wat ek haat. Ek haat dit om die heeltyd in die middel van 'n fight 'n fight te wees Ek haat dit om Ma te sien huil. Ek haat dit om Pa se sien oud word. Ek haat dit dat James die heeltyd vir my kwaad is. Ek haat dit om onsigbaar te wees, om net eenvoudig nie te bestaan nie. Ek haat dit om die asblik te wees waar almal hulle issues dump maar nie 'n hel omgee vir wat ek voel nie.

(Broos) Ek het die Young Scientist kompetisie gewen. In die laaste vyf-en-twintig jaar van ons skool se geskiedenis het niemand, niemand onder die top vyftig beland nie. Ek het die kompetisie gewen. Ek het by daai deur ingestap en opgewonde my nuus met julle gedeel. Ma was in gedagte. James het nie belangstel nie. En Pa. Wat het Pa gesê? (Pouse) Het jy die hek gesluit? En dit was dit.

Ek sal eet wat op my bord is. Ek sal hand-me-downs dra. Ek sal elke Saterdag Ma se rokke op die vlooimark verkoop en ek sal nie moan nie. Al wat ek vra is: Erken net vir een oomblik dat ek bestaan. 

 

Kopiereg © Johann Smith. (Met sy vergunning geplaas.)