If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Dit wat vir my kosbaar is

Hulle sê die wêreld is 'n verhoog. En ek en jy is niks meer as verwarde akteurs wat elk ons lyne opsê nie. Hulle sê dat my opstaan, skool toe gaan, my worsteling deur Algebra en fisies en saalopening en alleen-sit tydens pouses en effense patetiese pogings om êrens in te pas... Dat dit alles deel is van ' lang en eentonige verhoogstuk wat toneel na toneel, bedryf na bedryf tot in der ewigheid op die verhoog van die lewe afspeel.

Ek stem nie saam met "hulle" nie. My verhoog is anders. My verhoog is 'n stukkie kleur in die andersins vaal en kleurlose wêreld.

As die gordyne ooptrek en die ligte gaan aan, dan staan die wêreld stil. Dis 'n heilige oomblik. Dis my oomblik. Dis magic.

As ek die kollig se hitte oor my vel voel spoel, dan verander my wêreld. (Sy oog vang iemnd in die gehoor wat praat, maar hy gaan voort) My hart klop vinniger. My handpalms sweet. Adrenalien stuur vlinders na my maag maar 'n helderheid na my verstand. (Die gesels pla hom duidelik nou, hy kyk na die geselsende gehoorlid terwyl hy praat) En ek word iemand anders. Ek voel anders, ek dink anders. Ek praat! Ek beweeg! Ek leef!!

As die gordyne lig... (Uit karakter, stap na die kant van die verhoog) Sal jy asseblief ophou gesels terwyl ek besig is? Dis swak maniere en trek my... Hei, ek praat met jou! (Stap terug na sy plek, wil aangaan, bedink hom) Hy sit en praat met sy girl terwyl ek my hart uitspeel. Asof ek 'n TV is wat in die agtergrond speel. (Na persoon) Ons doen nie hierdie op die ingewing van die oomblik... soos 'n blêrrie kampvuurkonsert nie. Dis baie dae en baie ure se werk. Ons maak opofferings om hier te wees. (By homself terwyl hy weer terugstap na sy plek) En hy praat met sy girl asof ek nie bestaan nie.

(Lyk of hy probeer onthou waar in die teks hy was, maar dan) Hierdie is nie 'n rock konsert nie. As jy na 'n Steve Hofmeyr of Pink of Adele konsert toe wil gaan, fine. Gaan. As jy gewoond is daaraan om te skreeu Go Adele! Of Yaaay! as Steve vra "Is daar iemand van Bellville hier vanaand". Go for it. As jy wil jou girl 'n storie probeer vertel en probeer harder praat as die idiot op die verhoog en sy musiek, fine. Maar hierdie is nie 'n rock konsert nie. Dis 'n flippen teater. So hier hou jy jou mond.

(Effe broos) Want ek sing nie net 'n liedjie nie. Elke stuk is sorgvuldig uitgekies, elke woord is gememoriseer, elke klem en infleksie en emosie het 'n plek en 'n doel. Daar waar nie kan sien nie is ek dag na dag besig om my liggaam te martel en my siel tebreek. Geen opoffering is te groot nie. Geen siekte of verlies, geen liefdesteleurstelling of krisis kan in my pad staan nie. Want in my verhoogwêreld is niks minder as perfek goed genoeg nie.

Ek gee vir jou 'n stukkie van my hart, van myself. Ek stel myself bloot. Ek maak myself kwesbaar. Vir jou. (Na gehoorlid) Vir jou. (Na gehoor) Vir julle.

(Stilte soos hy terugstap na sy plek) As die gordyne lig en die ligte aangaan en die kollig warm oor my spoel.... Dan gee ek vir jou my alles. Ek gee vir jou dit wat vir my kosbaar is. 

 

Kopiereg © Johann Smith. (Met sy vergunning geplaas.)