Net ‘n wens
Ruisende gebruis,
van borrelmassa water,
wat vloeiend kronkel,
laat haar stilraak, versteen,
Hoog- bo nooi geelvink sy wyfie,
om nes weer te inspekteer,
met koppie skeef, tenger lyfie,
beduie sy hom – probeer maar weer.
Eenkant op ’n spieëlglad rots,
slaan koggelmander alles gade,
as hooggeagte- natuur se trots,
blou koppie omhoog, vol bravade.
Elkeen kort ‘n volmaakte maat,
vink, reptiel en selfs die mens,
‘n opregte, eerlike kameraad,
is dit dan nie wat almal wens?